Hierdie webwerf vertoon die beste deur gebruik te maak van die volgende sagteware: Mozilla Firefox 3, Google Chrome and Internet Explorer 8.0
Welkom by UMZUMBE CHALETS aan die Kwa Zulu-Natalse Suidkus.
Umzumbe Chalets is ‘n gesogte vakansie-oord 5 km van Hibberdene en 17 km vanaf Port Shepstone.
Die oord bestaan uit 56 A-raam Chalets, diskreet gerangskik teen die gevestigde heuwelhellings
van hierdie
tuinlandskap. Die plasing van die goedbeplande, en
keurig-ingerigte dubbeldek
hout-en-steen-eenhede,
verseker dat elkeen ‘n see-uitsig het.
Die leiklipdak-chalets word omgewe deur inheemse bome en blomryke struike langs netjiese en doel-matige paaie wat terrasgewys deur die ‘hamlet’ kronkel. In die verte, wat glad nie ver is nie, word eindelose goue sandstrande omsoom deur ‘n speelveld van ongerepte duine. Enorme getypoele uit sandsteenrots gebeitel, tem die branding van die rustelose see. Aangrensend nestel landelike vakansietuistes van die klein stranddorpie, Umzumbe, ‘n rustige idilliese vakansiehawe.
"56 A-raam chalets met see uitsig" Geleë teen ‘n hoë heuwelhang, oorskou ons panorama-uisig-oord inheemse subtropiese woude wat welig floreer tussen skilderagtige golwende heuwels van die kusstrook.
Kom geniet vanaf die voorstoep van u selfsorgverblyf, die asemrowende uitsig wat oor die bekoorlike landskap strek waar die spore van ons Skepper-God elke dag nuut en vars te vinde is.
Die ryk voëllewe en planteweelde praat hier ‘n eiesoortige taal. Skugter dwergduikertjies speel wegkruipertjie in die ruigte en nuuskierige jong bosbokke hou hul meewarig dop. Vrypostige blouape versteur die stilte van die oerbos met ‘n uitbundige gesnater en geswaai deur die digte lower.
Vir die natuurliefhebber en stapper wag hier verrassings langs bos- en ander wandelroetes. Fassinerende botaniese name teen die stamme help met die uitkenning van talle inheemse bome.
Dit en veel meer wag op jou by ons fassinerende bestemming aan die gewilde Hibiskus-kus. Kom ervaar en geniet die eertydse glorie van Blouvlagstrande wat waak oor die verantwoordelike beskerming, behoud en veiligheid van die sonderlinge kusgebied.
Kan ek regtig aandele in 'n vakansie oord bekom?
Bekom ‘n aandeel in enige van ons 56 luukse see-uitsig chalets. Ons bied ‘n wye
verskeidenheid opsies om u individuele of voorkeure te pas.
Vind uit hoe om Umzumbe Aandele te bekom
Ons nuwe Gimnasium en Stoombadfasiliteite blyk 'n ware treffer te wees. Dit is van die gehalte ontspanning en die ontginning van ‘n stresvrye leefwyse wat die unieke omgewing bied wat deel uitmaak van ‘n onvergeetlike Umzumbe-ervaring.
Ons gaste en aandeelhouers is kieskeurige vakansiegangers wat die privaatheid, gepaard met keurige verblyf en puik dienslewering wat ons bied, hoog aanslaan.
Die ontspanarea is goed gekamofleer tussen inheemse bome en pragtige blomstruike. Dis geleë op ‘n uitsig-plato, aan die voet van die natuurlike amfiteater waarteen die spits leiklipdakke van ons knus vakansietuistes afgeêts staan. Vanaf die twee goedgeleë grasperkomsoomde swembaddens verswelg die dreuning van hooggety en die gegons van die voortsnellende verkeer op die Suidkusroete.
‘n Ruim oop lapa met genoegsame geriewe en ideaal vir gesellige braaivleisgeleenthede maak deel uit van die baljaargebied. Ons ontspanningsaal digby is toegerus met ‘n ‘pool’-tafel en bied tafeltennis en ander binnemuurse spelgeleenthede. Vir die dorstiges is daar ‘n sportkroeg ingerig.
Kom geniet die terapeutiese atmosfeer van ons rekreasie-gebied met sy panoramiese see-uitsig. Die sprankelende swembaddens en die volledig-toegeruste lapa en braaigeriewe en ontspanningsaal, nooi oud en jonk tot allerlei pret.
Ons het reeds melding gemaak van die gimnasium- en stoombadfasiliteite wat die kroon span om die reeds merkwaardige ontspanningsgeleentheid, in ‘n onvergeetlike Umzumbe-ervaring te omskep.
Van Junie tot Desember maak die Suidelike Noordkapper walvisse se manewalis deel uit van die panoramiese skouspel wat die Indiese Oseaan bied.
Soos gemeld huisves die boomryke gebied ‘n groot verskeidenheid voëlsoorte, insluitend ‘n elegante spogpou-familie wat hulle hier saam met ‘n tarentaal-familie kom tuismaak het.
Wees oorgehaal vir ‘n genoeglike en opwindende 2 km staptog deur inheemse woud op ons Bosbok-roete. Hier wemel dit van wild soos die sierlike Bosbok, Blou- en Rooiduikertjies. Benewens die immerteenwoordige voëllewe en sporadiese aapgeselskap, maak die grysmuishond [mongoose] en selfs die sku ystervark hul in die habitat tuis. [Sien aanhegsel as jy hierdie spesies beter wil leer ken.]
Ten besluite, in ‘n neutedop.
Of jy nou bedags vanaf jou terrasbalkon dolfyne en walvisse met jou verkyker wil naderbring, of jou saans wil verkyk aan die maan oor die sprokieslandskap, of dalk ‘n verruklike weerligskouspel wat die naghemel in ‘n flitsende kaleidoskoop oor die diepsee optower. Hier wissel skakerings van natuurwonders en stilte mekaar af wat tot in jou siel gaan lê.
Asem die varslug in en ontspan langs die swembad waar braaivleisvure of die spesiale dis in die kombuis jou lok, kan jy kies watter roete jy, na die fees of jou Siësta, wil neem. Dalk is jy van die energiekes wat kans sien vir ‘n uitstappie oor die spoorlyn na die rustige Umzumbe-stranddorpie om die verfrissende seewaters te trotseer. Ook hier ontsnap jy aan die gewoel en gewemel van die skares.
Wat jy ookal begeer, sal jy kan geniet: ‘n ontspanne stappie, ‘n romantiese piekniek, karjakker in die branders, of sommer net om te staar na die manjifieke uitsig met ‘n verfrissende skemerdrankie in die hand.
Umzumbe Chalets waarborg nie net ‘n genotvolle vakansieondervinding nie, maar die Oord is trots daarop om uitmuntende diens te lewer! Ons is ‘n geregistreerde lid van die Suidkus Toeriste Vereniging.
Kontak ons vir meer inligting oor hoe om ‘n aandeelhouer te word en ons onderneem om jou volgende vakansie op die Hibiskus-kus sorgvry, aangenaam en onvergeetlik te maak.
Nog 'n webwerf vervolmaak deur Digital Fibre